Jaarverslag 2023

Ons is dankbaar vir ’n vol dam. Dit is hoop.

Erkenning moet aan die watergebruikersgemeenskap van die Gamtoosvallei gegee word wat onder baie moeilike omstandighede en ten koste van boerdery-aktiwiteite planne moes maak om te oorleef te midde van die uiters hoë vlak van waterbeperkings oor die afgelope agt jaar.

Die realiteit rondom die Gamtoosvallei bly soos volg: Die boeregemeenskap produseer kos en bring buitelandse valuta in. Dit is ook die primêre werkgewer en, in ’n land met ’n werkloosheidsyfer van meer as 30%, kan die belangrikheid van ‘n boer wat sorg vir ’n bord kos op ’n tafel nie onderskat word nie.

Een van die grootste uitdagings wat landbouverbruikers in Suid-Afrika moet trotseer is die toestand van ons kragnetwerk. Die beskikbaarheid van krag- en vervoernetwerke is een van die grootste bedreigings vir volhoubare boerdery in Suid-Afrika op die oomblik.

Marthinus Colesky

Kougadam loop oor! Die wete dat daar water is het die gemoedere van ons watergebruikers en gemeenskap gelig.

Met volhoubare reën in die opvanggebied het die Kougadam sedert 1 Maart dramaties gestyg.

Lae watervlakke en hoë beperkings het gedurende die afgelope agt jaar ongekende druk op ons watergebruikers geplaas.

Gedurende 2022/2023 is daar gestreef om kostes te beperk om sodoende ook die ekonomiese situasie in die Gamtoosvallei tegemoet te kom. Die behoefte aan onderhoud sal altyd veel groter wees as die fondse wat ons daarvoor beskikbaar het. Dit verg dus fyn beplanning om hierdie balans reg te hanteer.

Die implementeringskontrak met die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing is aan die einde van Maart voltooi. Die oorwaarde wat ontvang is uit hierdie kontrak het die Gamtoos-Besproeiingsraad die geleentheid gegee om aansienlike onderhoud te doen wat nie met ’n normale begroting die geval sou gewees het nie.

Die proses rondom die omskakeling na ’n watergebruikersvereniging is afgehandel en die Raad sal binnekort ’n oorgangstyd ingaan waar organistatoriese stappe gedoen sal word om dit te finaliseer.

Ons personeel is ons grootste bate. Hulle sorg dat operasionele werk soos ’n goed-geoliede masjien hardloop. Hulle is toegewyd en pligsgetrou. Twee belangrike beginsels vorm die boublokke van die bestuur van die personeel: Nuwe personeel word op grondvlak ingeneem en bevorder deur die sisteem, en daar is ’n streng dissiplinêre kode wat die nodige grense stel vir wangedrag.
Die bestuurspan werk goed saam en elke persoon op hoër bestuursvlak bring spesialis kennis na die tafel om probleme bes moontlik te hanteer en op te los.

Vir die eerste keer sedert 1999 betree die Raad ’n finansiële jaar waarin daar geen belofte is vir enige werk as implementeerder van die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing nie. Tenders vir die nuwe finansiële jaar is gelewer, maar dit is ’n uitdaging vir die Departement om die tenderproses af te handel. Die situasie het ’n noemenswaardige impak op die verhoging van waterbelasting. Alle personeel is ingekort en alle bedrywighede rondom Werk vir Water is gestop. Geen sekerheid bestaan oor wanneer hierdie prosesse afgehandel sal wees nie.

Raadslede skenk onbaatsugtig hul tyd. Hierdie individue het oor die jare ’n besondere kennis rondom waterbestuur en waterwetgewing opgebou. Hulle lewer belangrike insette wat strategie vorm. Hulle is individue met hoë morele standaarde en integriteit, en neem leiding op ’n onpartydige manier met die oog op die voordeel van die water- en breër gemeenskap.

Die Raad, in terme van die 1956 Waterwet, bestaan uit die volgende lede:

  • Wyk 1 (Patensie): SG Ferreira en Marthinus Colesky;
  • Wyk 2 (Hankey): Khaya Katoo;
  • Wyk 3 (Loerie): Manus Meyer en Adele Bain.

Pietie Ferreira (PL) het gedurende die jaar bedank en Noelie le Roux is in sy plek gekoöpteer.

Die Departement van Water en Sanitasie vorm ook deel van die Raad. ’n Nuwe oorgangsraad is geïdentifiseer en is huidiglik operasioneel met die doel om die omskakeling na die nuwe entiteit te fasiliteer.

Die omgewing waarin organisasies soos die Gamtoos-Besproeiingsraad moet oorleef raak al hoe meer uitdagend. Ekonomiese uitdagings vir ons gebruikers, wetgewing en die koste van onderhoud verg initiatief en deursettingsvermoë. Dit raak egter jaar na jaar meer duidelik dat ’n entiteit soos die Raad steeds relevant is, nie net vir ons watergebruikers nie, maar ook vir die breër gemeenskap.

Rienette Colesky

Die Raad is passievol oor die ontwikkeling van sy personeel.

Jacques Erasmus, wat gewerf is met die doel om pas- en draaiwerk te doen in ons werkswinkel, het sy leerlingskap voltooi.

Verskeie van ons jong intreepersoneel het hul kode-14 bestuurslisensies voltooi gedurende die jaar.

Jacques Erasmus
Rentia Prinsloo

Transformasie na ’n Watergebruikersvereniging

Die Gamtoos-Besproeiingsraad is in 1991 as ’n besproeiingsraad geproklameer en is ’n statutêre liggaam onder die Nasionale Waterwet van 1956. Die bedoeling van die Nasionale Waterwet van 1998 was, onder andere, dat besproeiingsrade omgeskakel word na watergebruikersverenigings (WGV) binne ses maande nadat die 1998 wet geproklameer is.

’n WGV se hoofdoel is om water in ’n bepaalde area op grondvlak te bestuur. Dit het die regsvorm van ’n koöperatiewe assosiasie van individuele watergebruikers wat waterverwante aktiwiteite onderneem tot almal se voordeel.

Gedurende 2021/2022 is die proses weereens aangepak. Twee aangrensende opvanggebiede, die Baviaanskloof en Kabeljous opvanggebiede, het aangedui dat hulle deel wil vorm van die nuwe WGV.

’n Tussentydse komitee is gedurende die jaar geïdentifeer wat saamgewerk het om die grondwet en voorlegging van die nuwe WGV saam te stel. Die grondwet is op 26 Mei aan die Departement van Water en Sanitasie oorhandig en is voorlopig deur die streeksdepartement aanvaar. Dit is aan die minister voorgelê en goedgekeur op 26 September. Die Gamtoos-Besproeiingsraad sal ’n oorgangstydperk binnegaan. Hierdie proses sal gefasiliteer word deur die tussentydse komitee.

Die grense van die nuwe WGV, wat as Gamtoos Water bekend sal staan, word langs sub-opvanggebiedgrense gedefinieer. Die volgende sub-opvanggebiede vorm dus deel van die nuwe entiteit:

Gamtoos: (L90A-C en L82J) Sub-Area 1
Baviaanskloof: (L81A-D en L82H) Sub-Area 2
Kabeljous: (L90G) Sub-Area 3

Alle gebruikers met ’n wettige watergebruiksreg binne hierdie sub-opvanggebiedgrense sal verplig wees om ’n lid te word van die WGV. Elke entiteit met ’n watergebruiksreg of -regte sal geregtig wees op een stem in die algemene vergadering.

Die nuwe bestuurskomitee sal uit die volgende stemregte bestaan:

  • Sub-Area 1: 6 Stemme
    • 2 Stemme vir Patensie
    • 2 Stemme vir Hankey
    • 2 Stemme vir Loerie
  • Sub-Area 2: 3 Stemme
  • Sub-Area 3: 3 Stemme
  • Opkomende kleinboere en/of koöperatiewe assosiasie: 3 Stemme
  • Komiteelid uit die Bedryf: 1 Stem
  • Komiteelid uit die Omgewing: 2 Stemme
  • Kouga Munisipaliteit: 1 Stem
  • Nelson Mandelabaai Munisipaliteit: 1 Stem
  • Departement van Korrektiewe Dienste: 1 Stem
  • Opvanggebiedbestuursagentskap: Waarnemer
  • Departement van Landbou: Waarnemer

Hierdie was ’n lang en intense proses waarvan die resultaat weldeurdag is. Die Besproeiingsraad in sy nuwe vorm sal drie areas met uiteenlopende behoeftes dien. Dit verteenwoordig ook die gesig van watergebruiksbestuur.

Die Gamtoosvallei behels die bestuur van ’n staatswaterskema met ’n komplekse infrastruktuur sowel as kostestruktuur. Watergebruikers in die Baviaans en Kabeljous het ’n behoefte om aan ’n oorkoepelende struktuur te behoort wat waterregkundig is, maar ook die werking van die departement verstaan om sodoende raad en antwoorde op daaglikse wateruitdagings te verskaf.

Dit is ’n belangrike punt in die geskiedenis van waterbestuur in die Gamtoosvallei en ons is opgewonde om twee opvanggebiede van medewatergebruikers saam te trek.

Waterbeperkings 2022/2023

Landbouwatergebruikers ontvang 60.188 miljoen kubieke meter uit die Kouga Dam gedurende ’n normale 100% toekenningsjaar. Die Hankey en Patensie munisipaliteite ontvang ook ’n toekenning, sowel as die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit. Tydens ’n volle kwotajaar is dit 23 miljoen kubieke meter water per jaar.

Die landbougebruikers was beperk met 80% gedurende die 2022/2023 waterjaar. Die Kouga Munisipaliteit was beperk met 40%. Die res van die bronne van die Algoa-sisteem was met 40% beperk en die Metro was met 35% uit die Loeriedam beperk.

Dit is die sewende agtereenvolgende jaar dat gebruikers van ons skema se waterkwota beperk word.

Die grondgebruik profiel het aansienlik verander tydens die droogte. ’n Onlangse studie het die volgende aan die lig gebring:

Sitrus 7 268.50 hektaar
Kontantgewasse 1 547.16 hektaar
Meerjarige weivelde 3 154.95 hektaar
Bloubessies 24.37 hektaar
Braakgrond 11.12 hektaar
Voerkrale 0.267 hektaar
Totaal 12 006.37 hektaar

Gedurende die afgelope waterjaar is min, indien enige, grondwaterbronne ontwikkel.

Die vlak van die Kougadam was op 22 Julie 2021 net 3.89%. Dit is die laagste wat dit nog ooit was.

Die toekenning van 20% aan landbougebruikers en 65% aan die Metro het toegelaat dat die skema vir die eerste keer in twee jaar voltyds kon loop. Alhoewel waterverliese steeds aansienlik is op hierdie lae volume water, is dit nogsteeds meer effektief indien die skema altyd water in het. Hoewel die volkwotatoekenning uit die Kougadam aan landbougebruikers hoër is as die Metro, het die Metro hierdie waterjaar meer in volume ontvang as die landbougebruiker.

Tydens 2022/2023 is die waterjaar deur die departement aangepas van 1 Junie tot 31 Mei.

Teen die einde van Junie 2023 het watergebruikers 95.35% van die 20% kwota gebruik. Verliese gedurende die waterjaar was 13.6%. Dit is sowat 3.9 miljoen kubieke meter op 28.8 miljoen kubieke meter se loslate.

Jaar Kouga Damvlak op 30 Junie Toekenning vir die waterjaar
2023 23.01% 35%
2022 15.37% 20%
2021 4.19% 15%
2020 7.11% 20%
2019 44.98% 85%
2018 7.89% 40%
2017 18.65% 40%
2016 68.03% 100%
2015 100.27% 100%
2014 88.97% 100%
2013 87.18% 100%
2012 87.96% 100%
2011 100.93% 100%

Operasionele Gesondheid

Die droë periode tydens Junie elke jaar is die belangrikste gebeurtenis vir ons skema. Daar word goed beplan daarvoor, maar die reën tydens 2023 het uitsonderlike uitdagings aan die beplanning gestel. Nietemin is die meeste van die beplande werk gedoen. Waar die nat weer ons gedwing het om ons beplanning te verander, het ons ander uitdagings op die skema geïdentifiseer en steeds optimaal gebruik gemaak van die twee weke waartydens ons kanaal sonder water was.

null

Die volgende is noemenswaardig ten opsigte van die 2023 droë periode:

  • Daar is met 20 kontrakteurs gewerk, elk met 10 werknemers.
  • Noodhulp- en veiligheidsopleiding, gesondheidsopleiding sowel as beperkte-spasie opleiding is aan hierdie werkers verskaf. Hierdie is ’n belangrike meganisme waardeur kennis teruggeploeg word in ons gemeenskappe.
  • Verskeie van die ingekorte Werk vir Water personeel is hierdie jaar weereens gebruik om dele van die projek te bestuur.

null

Die volgende werk is voltooi tydens die twee weke:

  • NG Kerk Duikpyp (A29): Ontwater, skoongemaak en geïnspekteer.
  • OJ Ferreira Duikpyp (A67): Ontwater, skoongemaak en geïnspekteer.
  • Konstruksie van twee ‘rock-traps’ in die hoofkanaal:
    • Stroomop van Duikpyp 102 (Kleingeld Duikpyp).
    • Stroomop van Duikpyp 109 (Kleniek Duikpyp).

Nota: Waar daar na “spesiale instandhouding” hieronder verwys word, behels dit die volgende:

    • Hoëdrukwas van die hele kanaal, alle krake en verbindings.
    • Skoonmaak van alle krake en verbindings met ’n kompressor.
    • Herstel krake en verbindings met bitu-stopverf en bitu-plastiek.
    • Betonherstelwerk waar nodig (groot gate of gate wat deur die betonblad beweeg).
    • Verseël haarfyn krake met Flintkote (‘n bitumien-tipe seëlproduk).
    • Verf hele kanaalseksies met Flintkote (eerste laag 50/50 verdun met water, tweede en derde lae is volle lae).
  • Spesiale instandhouding op die hoofkanaal: A96 – A104 (3120m).
  • Spesiale instandhouding op die hoofkanaal: ’n seksie van A82 (100m).
  • Spesiale instandhouding op die hoofkanaal: ’n seksie van A97 (30m).
  • Vervang staalpypafvoer 107/1 op Duikpyp A107 met vlekvrye staal en ’n nuwe sluisklep.
  • Vervang staalpypafvoer 18/1 op Duikpyp A18 (Robert Scott Duikpyp) met vlekvrye staal en ’n nuwe sluisklep.
  • “Spesiale instandhouding” op ’n seksie van die K-Kanaal: (240m).
  • “Spesiale instandhouding” op ’n seksie van die B-Kanaal: (1400m).
  • Verwyder bome langs die kanale by: A26 (stroomaf van Scheepersdam), A69 (stroomaf van OJ Ferreira Duikpyp), en by D-Kanaal.
  • Algemene instandhouding van die oorblywende seksies van die hoof- en takkanale, en alle afvoere.
  • Bou ’n nuwe keermuur by die afvoer van Scheepersdam.
  • Installeer twee lere met veiligheidsrelings by Mullerdam (D Balanseringsdam).
  • Installeer vlekvrye staalplate by die Mullerdam outomatiese sluisopening.
  • Algemene instandhouding van alle outomatiese sluishekke, behalwe die outomatiese sluishek by Mondplaasdam (G Dam).

null

Die volgende vind daagliks plaas:

  • Die beheer van plantegroei en onkruid langs die kanaalstelsel. Dit maak ’n beduidende verskil tydens die intensiewe droë periodes.
  • Droëland rehabilitasie op verskeie plekke op
    die skema.
  • Onderhoud van ons stelsel en die herstel van daaglikse lekplekke en breuke.
  • Die balansering van ons watervoorraad.

Die skema raak ouer en het reeds sy leeftyd oorskry. Dit is ’n realiteit dat dit nie vervang sal word deur dit oor te bou nie. Die koste daaraan verbonde is enorm. Om hierdie rede is dit belangrik om daagliks deeglike onderhoud te doen op die skema. Daar is bevind dat die takkanale in ’n besonderse swak toestand is. In terme van die beplanning moet daar binne die volgende paar jaar spesiale onderhoud op al die takkanale gedoen word.

Tydens die 2023 droë periode is die B-kanaal reeds afgehandel. Die spesiale onderhoud is ook reeds op die grootste deel van die Loerie-afdeling gedoen gedurende die afgelope drie jaar. Hierdie swart kanale wat grotendeels bestaan uit ’n rubberlaag wat oor die sement geverf word, nadat die krake met ‘n buigsame seël behandel is, is maklik om skoon te maak en onderhoud is minimaal in vergelyking met die tradisionele sementkanale.

Dit het egter ook ’n koste-implikasie in terme van die begroting.

Finansiële Gesondheid

Finansiële state 2022/2023

Gedurende die 2022/2023 finansiële jaar het die Gamtoos Besproeiingsraad goed presteer. Dit kan toegeskryf word aan die kontrak met die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (Werk vir Water), wat tot ’n einde gekom het. ’n Totaal van R10 331 546 is ge-in as gevolg van spaarsaminge beplanning en uitvoering ter voltooiing van hierdie kontrak.

Die volgende is noemenswaardig ten opsigte van die finansiële state:

  • Die totale reserwes van die Raad beloop:
    • R 35.8 miljoen
    • R 30 miljoen (Junie 2022).
  • Waterbelasting gevorder beloop:
    • R34.1 miljoen
    • R27.5 miljoen (Junie 2022).
  • Waterbelastinginkomste beloop 74.5% van die inkomste (2021/2022: 72.7%).
  • Werk vir Water inkomste subsidieer die inkomste met 22.5% (2021/2022: 9.5%).
    R12.6 miljoen is uitgegee op verbruikbare voorraad en konsultante (2021/2022: R9 miljoen) met die doel om die skema te onderhou. R1 miljoen van hierdie spandering is vir ’n geohydrologiese studie en ’n bedrag van R2.6 miljoen is uitgegee op produkte vir spesiale onderhoud .
  • Die Raad het geen langtermynskuld nie.

Begroting 2023/2024

  • ’n Verhoging van 15% is aanbeveel.
  • Totale begroting: R41 960 100.00.
  • Waterbelasting beloop 82.75%% van die totale begroting (2021/2022: 67.7%) en Werk vir Water inkomste (uit die vorige jaar se reserwes) subsidieer die begroting met 7.1% (2021/2022: 8.2%).

Daar word geen direkte inkomste verwag vir die implementering van Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing kontrakte nie.

Watertariewe vir 2023/2024

‘n Verhoging van 15% word aanbeveel vir watertariewe vir die 2023/2024 waterjaar.

Beskrywing Vorige tarief Nuwe Tarief
Opvanggebiedheffing (DWS) R216.80 R245.60
Heffing op hoofkanaal en Kougadam (DWS) R358.40 R373.60
Gamtoos-Besproeiingsraad waterbelasting R3259.80 R3791.80
Totaal (basies vir 80% of minder van volkwota) R3835.00 R4411.00
Groottotaal (volkwota) R4286.58 R4635.00

Bedrae sluit nie BTW in nie.

Werk vir Water

Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing

Die kontrak met die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing ten opsigte van die Natuurlike Hulpbron Projekte (Werk vir Water) het aan die einde van Maart tot ’n einde geloop. Alle personeel wat hierby betrokke was is ingekort. Daar word tans gewag dat die departement die tenderproses vir die nuwe siklus afhandel. Daar is egter geen sekerheid in terme van ’n kontrak vir die Raad in die nuwe siklus nie.

Daar is gedurende die finansiële jaar (2022/2023) R70 miljoen spandeer.

Die pad vorentoe

Die gemoedere van ons gebruikers en personeel is ligter weens die vol dam.

Al ons personeel, van voetsoolvlak tot bestuur, het ’n intense bewustheid van hoe belangrik die beskikbaarheid van water vir die Gamtoosvallei is. Vir elke personeellid wat gedurende die laaste agt jaar deel van ons span was, sowel as diegene wat aangesluit het, sal waterbestuur altyd ’n saak van erns wees.

Die skema het oor die tyd gestabiliseer en krisisareas is uitgesorteer. Aandag sal oor die volgende drie jaar gefokus word op die opgradering van die takkanale.

Wateraanvraagbestuur is ’n enorme verantwoordelikheid en ’n uiters belangrike taak. Die Gamtoos-Besproeiingsraad span is gewillig en gretig om optimale waterbestuur toe te pas wat tot ons watergebruikers se lewensvatbaarheid bydra, maar ook indirek tot dié van alle inwoners van die Gamtoosvallei. Dienslewering is belangrik en ons streef daarna om te dien. Dit sluit die effektiewe bestuur van grondwaterbronne, oppervlakbronne, en die kanaal- en pypsisteem in.

Ons is opgewonde oor die transformasie na ’n watergebruikersvereniging. Dit is ’n voorreg om betrokke te wees by ons watergebruikers in die Baviaanskloof- en Kabeljous-opvanggebiede. Ons pluk reeds die vrugte daarvan om op breër platforms betrokke te wees en ryker verhoudinge met ander belangepartye te bou.

Ons betrokkenheid op díe pad, sowel as by ons skole, klinieke, sportgroepe en opkomende boere, is ’n belangrike aspek van ons voortbestaan, want “dit verg ’n vallei”. Meelewendheid en deursettingsvermoë om verantwoordbaar te wees aan al die inwoners van die Gamtoosvallei, Baviaanskloof en Kabeljous is vir ons belangrik.

“Asimi, siyaqhuba.”
“We do not stand still; we move forward.”

Passievol oor mense. Passievol oor water.