Jaarverslag 2024

Tydens hierdie jaar wat verby is, was daar ‘n paar eerstes vir my. Eerstens was dit die Kougadam wat oorgeloop het. ‘n Eerste ervaring as boer in in die Gamtoosvallei waar ek al agt jaar as ‘t ware “droog” saam met medeboere boer. Ons beleef met groot opwinding, hoop en danksegging dat ons Skepper altyd voorsien. My woorde ontbreek om te kan beskryf hoe lekker dit is om te mag boer met goeie reën en uitstekende watervoorsiening. Ons moet die Gamtoos Water span en bestuurskomitee daarvoor erkenning gee. Dit is ook ‘n eerste om as vrou, as komiteelid, maar ook as die eerste vroulike voorsitter op die bestuurskomitee te kan dien.

‘n Staatswaterskema soos Gamtoos Water het baie keer groot en onvoorsiene uitgawes. Hierdie finansiële jaar was geen uitsondering nie. Dit gebeur in die beste huishoudings, en in ‘n boer s’n soveel te meer. Die aanpassing van ons watertariewe is vir almal moeilik, maar groot deurbrake word daarmee vermag. Alge beheer is grootliks verbeter wat goeie gehalte water vir ons as verbruikers verseker en langtermyn kostebesparings teweeg bring. Die opknapping en onderhoud wat gedurende vorige jare beplan en gedoen is, werp vrugte af. Nog groot planne lê voor om die skema as ‘n goed geoliede masjien te behou. Ek staan bankvas agter die personeel se bekwame hande en Rienette se leiding. Ons is in uitstekende hande!

Ek was sopas in die Namakwaland (nog ‘n eerste vir my). Die skouspel van die blommeprag was ‘n pronkerige besigheid vir die oog. Hierdeur besef mens net weer die wonder wat ‘n klein bietjie reën kan vermag. Dit was ‘n nederige ervaring. Die Richtersveld met sy dorre hardheid en droogte slaan jou asem weg en nogsteeds is ek in verwondering oor hoe dit moontlik is om ‘n bestaan in die woestyn te kan maak.

Mag ons nooit sonder water wees nie! My terugkeer na ons vallei en sy groen lappies lande was met nostalgie en opgewondenheid. Dis lekker om te boer, en veral lekker met so fantastiese skema en span wat ons so moeiteloos bly dien!

Adele Bain

Suid-Afrika is voorwaar uniek. Ons het die beste rugbyspan in die wêreld, van die beste swemmers in die wêreld, van die beste aflosspanne in atletiek en een van ons eie is die UFC-middelgewigkampioen. Op Loftus tydens die kragmeting met die All Blacks, dreun elke toeskouer saam as die volkslied gesing word. Elke Suid-Afrikaner, op die paviljoen of voor die televisie, is trots op ons land en die diep gesetelde gevoel van behoort wat dit by ons skep.

‘n Jaar se tydverloop verander die landskap. Gamtoos Water weet dat ‘n organisasie slegs sal oorleef met veerkragtigheid, slim beplanning en waagmoed.

2024 was weereens ‘n dinamiese jaar. ‘n Nuwe watergebruikers entiteit is deur die Minister van Water en Sanitasie geproklameer. ‘n Aansienlike gedeelte van die jaar is dan ook gewei om die bestuurskomitee van die nuwe entiteit tot stand te bring.

Tydens die jaar is geen addisionele fondse met eksterne projekte gegenereer nie. Dit sit huidiglik druk op die begroting met die noodsaaklikheid om die skema voortdurend te onderhou en te verbeter, sodat infrastruktuur behoue bly. Die waterbelasting wat vir verskeie jare deur eksterne fondse gesubsidieer is, het genoop om ‘n hoër verhoging te implementeer om sodoende oor tyd die gaping te krimp.

Ons het ons eie Regering van Nasionale Eenheid. Soortgelyk bring die bestuurspan elk interessante planne en oplossings na die tafel vir daaglikse probleme. Sonder die personeel se uiteenlopende persoonlikhede en sienings, sou oplossings minder kreatief en effektief gewees het. Ons personeel is ywerig om te leer en te implementeer. Dit maak van hulle ‘n waardevolle hulpbron.

Dit is ‘n voorreg om te werk vir ‘n organisasie waar ons watergebruikers betrokke en passievol is en om te sorg vir die volhoubare bestuur van sekerlik die belangrikste hulpbron in ons omgewing. Ons doen dit met passie en toewyding!

Rienette Colesky

TRANSFORMASIE NA ‘N WATERGEBRUIKERSVERENIGING (WGV)

Drie is beter as een

Institusioneel was dit ‘n besige jaar by Gamtoos Water.

Die Minister van Water en Sanitasie het op
6 Oktober 2023 Gamtoos Water geproklameer as ‘n watergebruikersvereniging (WGV).

Sedert 1991 het ons entiteit gefunksioneer as ‘n besproeiingsraad wat ‘n regspersoonlikheid verkry het uit die Waterwet van 1956.

‘n Watergebruikersvereniging is egter ‘n statutêre liggaam wat gesetel is in die Nasionale Waterwet van 1998. As ‘n statutêre liggaam funksioneer dit in terme van ‘n ko-operatiewe assosiasie en streef daarna om water, in ‘n bepaalde area, op voetsoolvlak, te bestuur. Hierdie entiteit het die mandaat om waterverwante aktiwiteite tot voordeel van alle watergebruikers in die opvanggebied te bestuur.

Die interim-komitee, wat as deel van die proses geidentifiseer is, het soos van die komitee verwag, ‘n bestuurskomitee (Manco) verkies om die Gamtoos Watergebruikersvereniging te bestuur. Die verkiesing het op 14 tot 16 Augustus plaasgevind en is deur onafhanklike ouditeure gefasiliteer.

Die nuwe watergebruikersvereniging bring drie opvanggebiede bymekaar, naamlik:

Gamtoos

(L90A-C en L82J)

Sub-area 1

Baviaanskloof

(L81A-D en L82H)

Sub-area 2

Kabeljous

(L90G)

Sub-area 3

Die ontstaan van hierdie nuwe entiteit binne die wetgewing van 1998 word as ‘n mylpaal bestempel.

Hierdie drie opvanggebiede het uiteenlopende samestellings, en gevolglik behoeftes, daarom sal die uitdaging wees om behoeftes doeltreffend te integreer en te bestuur.

In ‘n neutedop fokus dit op die meet van die gebruik, bestuur van die gebruik, en ‘n begrip van die watergebruiksreg. Hierdie omsluit ook ‘n effektiewe administrasiesisteem wat verantwoordbaar is aan watergebruikers.

Die behoefte in die Gamtoosvallei behels die bestuur van ‘n staatswaterskema met ‘n komplekse infrastruktuur sowel as kostestruktuur. Terwyl watergebruikers in die Baviaanskloof en Kabeljous ‘n behoefte het om te behoort aan ‘n oorkoepelende struktuur wat waterregkundig is, moet hulle ook die werking van die departement verstaan om sodoende antwoorde en raad te gee oor daaglikse water kwessies.

Die nuwe bestuurskomitee wat gedurende Augustus 2024 gekies is, lees soos volg:

Sub-area 1

Patensie

SG Ferreira en Christof Opperman

Hankey

Noel le Roux en Khaya Katoo

Loerie

Manus Meyer en Adele Bain

Sub-area 2

Baviaanskloof

Rune Janse van Rensburg, Barend Lamprecht en Quentis Bezuidenhout

Sub-area 3

Kabeljous

Mauritz Rautenbach, Billy Hatting en Willem van Vuuren

Drie opkomende kleinboere en/of Koöperatiewe Verenigings sal gekies word om hulle op die bestuurskomitee te verteenwoordig. Die Gamtoos sub-komitee sal een komiteelid kies om die industrieë in die Gamtoos area te verteenwoordig.

Die komiteelede van die omgewing is die Oos-Kaapse Parke- en Toerisme-agentskap wat die Baviaanskloof Natuurreservaat verteenwoordig, sowel as die Kabeljous Reservaat Aksie Groep (KRAG).

Ander verteenwoordigers sluit in: Kouga Munisipaliteit, Nelson Mandelabaai Munisipaliteit, die Departement van Korrektiewe Dienste, die Opvangsgebiedbestuursagentskap en die Departement van Landbou.

WATERBESTUUR 2023/2024

Om die onbegrypbare te verstaan

Kougadam het op 29 September 2023 ‘n vlak van 100% bereik. Hierdie gebeurtenis het verligting gebring na ‘n droogte wat die langste in die bestaan van die skema was. Die dam het op 10 Junie 2024 vir ‘n tweede keer oorgeloop na goeie reën in die opvanggebied.

Die departement het gedurende 2023 die waterjaar van die watergebruikers uit Kougadam verander van 1 November tot 31 Oktober. Die rede hiervoor is dat Oktober die einde van die reënseisoen is en die aanname gemaak kan word dat die waterbronne dan op die volste is gedurende ‘n siklus. Gevolglik kan die mees akkurate waterbeperking bepaal word in terme van die vlak van die waterbronne.

Afgesien van hierdie veranderinge en Kougadam wat gedurende November 2023 op ‘n 100% was, is die waterverbruik deur die departement beperk met 15% vir landbougebruikers en 5% vir huishoudelike gebruik.

Die rede hiervoor is ‘n voortdurende studie wat deur die departement aangevra is rondom die hidrologie van die Kougasisteem en die bepaling van die opbrengs van water uit die opvanggebied. Die bevinding daaruit is dat die opbrengs minder is as wat aanvanklik gedurende vorige studies bepaal is. Historiese studies het van minder akkurate data gebruik gemaak. Tegnologie het hierdie situasie verander.

Landbouwatergebruikers ontvang 60.188 miljoen kubieke meter water uit die Kougadam gedurede ‘n normale 100% toekenningsjaar. Die Hankey en Patensie munisipaliteite ontvang ook ‘n toekenning sowel as die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit. Tydens ‘n volkwota jaar is dit 23 miljoen kubieke meter water per jaar.

Waterregte in die Kabeljous en die Baviaanskloof is hoofsaaklik gebaseer op rivier en boorgat onttrekking. Hierdie regte kom voor in verskeie stadiums van die verifikasie en validasieproses wat in die departement gesetel is. Een van Gamtoos Water se hoofdoelstellings in die korttermyn is om watergebruikers by te staan om hierdie proses te voltooi.

Die volgende gewasse en vee word in die Gamtoos, Baviaanskloof en Kabeljous opvanggebied verbou:

  • Gamtoos: sitrus, bloubessies, arbeie, voorafverpakte groente, kontantgewasse en melkbeeste.
  • Baviaanskloof: voer vir kleinvee, groentesaad en graan.
  • Kabeljous: weiding (raaigras, lusern, kikuyu, ens.), melkbeeste, vleisbeeste, skape, wild, sitrus, avokado’s en groente.

Toerisme is ook ‘n belangrike inkomstestroom in al drie hierdie opvanggebiede.

Tydens 2022/2023 is die waterjaar deur die departement aangepas van 1 Junie tot 31 Mei. Gedurende 2023 is daar weereens ‘n verandering gemaak deur die datum van die waterjaar te verander van 1 November tot 31 Oktober. Die gevolg daarvan was dat daar gedurende 2023 ‘n waterjaar van vyf maande aangeteken is (1 Junie tot 31 Oktober). Verbruiksyfers is vir hierdie rede misleidend. Daar is wel 3.8 miljoen kubieke meter deur die landbougebruikers tydens hierdie periode gebruik. Die toekenning het gevarieer tussen 35% vir die eerste vier maande en 100% vir Oktober.

 

Jaar

Kougadamvlak op 30 Junie

Toekenning vir die waterjaar

2024

100.31%

85%

2023

35%

35%

2022

15.37% 

20% 

2021

4.19%

15%

2020

7.11%

20%

2019

44.98%

85%

2018

7.89%

40%

2017

18.65%

40%

2016

68.03%

100%

OPERASIONELE GESONDHEID

Die skema

Die droë periodes van elke jaar is die belangrikste gebeurtenisse op ons skema.

Die werk word beplan deur gebeure tydens die jaar op die skema in oorweging te neem, sowel as om inligting op die risikoverslag van die skema te gebruik.

‘n Paar kwessies het hierdie jaar daartoe gelei dat die skema op spesifieke gedeeltes ‘n totaal van ses weke droog was, sodat deeglike herstelwerk gedoen kon word.

In breër terme is die volgende gedoen:
  • Die nodige skoonmaak en herstelwerk is aan die hoofkanaal gedoen met ‘n spesifieke fokus om die laer deel van die skema in Loerie op te gradeer.
  • D-kanaal is skoongemaak en herstel en daar is spesifiek klem gelê op areas waar die kanaalwand poreus was.
  • Seunie, die outomatiese sluis, is op die D-kanaal vervang. Hierdie sluis is die eerste keer sedert die skema in gebruik geneem is, vervang. Twee meshekke is vervang op die C en D verdelings.
  • Die opgraderingswerk op B-kanaal is voltooi. Die kanaal is skoongemaak, herstel en geverf.
  • K-kanaal is skoongemaak en herstel.
  • Daar is vir die eerste keer ‘n spesifieke droë periode op G-kanaal gehou. Hierdie kanaal is skoongemaak, herstel en ‘n aansienlike deel daarvan is geverf.
Meer spesifiek is die volgende gedoen:
  • Kougadam Sifon – Merwe du Preez Sifon en die bedekte kanaal wat die twee sifons verbind (A1): Ontwater, skoongemaak en geïnspekteer.
  • Andrew Prins Sifon (A1): Ontwater, skoongemaak en geïnspekteer.
  • Hoofkanaal spesiale onderhoud op A94-95 in Loerie (900m).
  • Algemene onderhoud op die hele Hoofkanaal:
    • Leeggemaak en skoongemaak.
    • Herstelwerk met ‘bitu-putty’ en ‘multi seal’.
    • Betonherstelwerk op spesifieke areas gedoen.
  • Modifikasie van bulte: Ingang van Scheepersdam Sifon, 94, 102 en 104. Die bulte is in die middel oopgesaag en met ‘n bult-sluishek toegerus.
  • Die twee sluishekke wat watertoevoer na die C- en D-kanale herlei of beheer, is vervang met handmatige meshekke.
  • Spesiale instandhouding is gedoen op B-, D-, en G-kanale.
  • Algemene instandhouding is gedoen op ander takkanale.
Let wel: Waar daar na ‘Spesiale Onderhoud’ hieronder verwys word, behels dit die volgende:
  • Hoëdrukspoel van die hele kanaal, alle krake en aansluitings.
  • Maak alle krake en lasse skoon met gebruik van ‘n kompressor.
  • Herstel alle krake en lasse met ‘bitu-putty’ en ‘bitu-plastic’.
  • Betonherstelwerk is gedoen waar nodig (groot gate of gate wat deur die betonblad beweeg).
  • Haarlyn krake is verseël met Flintkote (‘n bitumineuse seëlaar).
  • Verf die hele kanaalgedeelte met Flintkote (eerste laag verdun 50/50 met water, tweede en derde lae is volle lae).
Die volgende is noemenswaardig van 2024 se droë periodes:
  • Daar is met 20 kontrakteurs gewerk, elk met 10 werknemers.
  • Die werkers het eerstehulp en veiligheidsopleiding, gesondheidsopleiding sowel as beperkte ruimte opleiding ontvang. Hierdie is ‘n belangrike meganisme waardeur kennis in ons gemeenskappe teruggeploeg word.
Die volgende werk vind daagliks plaas op die skema:
  • Die beheer van plantegroei en onkruid langs die kanaalstelsel. Dit maak ‘n beduidende verskil tydens die intensiewe droë periodes.
  • Droëland rehabilitasie op verskeie plekke op die skema.
  • Die onderhoud van ons stelsel en die regmaak van daaglikse lekke en breuke.

Die bestuur van ons watervoorraad. Die voorsiening aan die laer deel van ons skema het bewys dat dit ‘n uitdaging is. Daar is aansienlik meer spilpunte as voorheen, wat beteken dat groot volumes water gedurende korter tye in die jaar benodig word. Verskeie dieptevlaktemeters is gedurende die jaar geïnstalleer om die situasie te bestuur. Die Loerie area het in ‘n wateraanvraagsisteem verander.

Die kwaliteit van die water in die opvanggebied, die Gamtoos vlakte en Kabeljous word elke drie maande gemeet en gerapporteer aan verskeie platforms.

Die skema raak ouer en is reeds verby sy leeftyd. Dit is ‘n realiteit dat dit nie vervang sal kan word deur dit oor te bou nie. Die koste daaraan verbonde is enorm. Om hierdie rede is dit belangrik om daagliks deeglike onderhoud te doen op die skema. Daar is gevind dat die takkanale in ‘n besonderse swak toestand is. In terme van beplanning moet daar binne die volgende paar jaar spesiale onderhoud op al die takkanale gedoen word. Daar is reeds tydens die 2024 jaar ‘n aansienlike verskil gemaak. Die doel is om die takkanale met ‘n rubberlaag te verf nadat krake met sement of ‘n buigsame seël herstel is. Hierdie prosedure verleng die leeftyd van die kanaal en is ook maklik om skoon te maak. Die onderhoud is minimaal in vergelyking met dié van die tradisionele sement kanale.

Die produkte wat egter tydens hierdie proses gebruik word is duur. Om daardie rede word daar metodies te werk gegaan en elke jaar word daar ‘n spesifieke bedrag begroot vir die aankoop van hierdie produk en dit word op die skema toegepas.

In die afsienbare toekoms sal genoeg voorsiening gemaak moet word tydens die droë periodes vir werk op die takkanale.

FINANSIËLE GESONDHEID

Gamtoos opvanggebied

Finansiële state 2023/2024

(Die genoemde finansiële state sluit nie uitgawes vir die Baviaanskloof en Kabeljous opvanggebiede in nie. Rapportering van hierdie twee opvanggebiede sal van volgende jaar van toepassing wees.)

Gedurende 2023/2024 is daar gefokus om die behoeftes van Gamtoos Water so na as moontlik aan die begroting te bestuur. Daar was geen fondse van eksterne projekte wat waterbelasting gesubsidieer het nie. Dit is problematies aangesien daar ‘n behoefte is aan bepaalde werke op die skema om dit te onderhou en te verbeter. Addisionele uitgawes in terme van die onderhoud op die teerpad sowel as pogings om die afvalwaterbehandelingswerke in die opvanggebied op standaard te bring, plaas verhoogde druk op die begroting.

Die volgende is noemenswaardig ten opsigte van die finansiële state:

  • Die totale reserwes beloop:
    • R 34.8 miljoen (Junie 2024)
    • R 35.8 miljoen (Junie 2023)

Tydens die opstel van die begroting is daar besluit om van die vorige jaar se reserwes te gebruik om die verhoging
te akkommodeer.

  • Waterbelasting gevorder beloop:
    • R 34.9 miljoen (Junie 2024)
    • R 34.1 miljoen (Junie 2023)
  • Waterbelastinginkomste beloop 90% van die inkomste (2022/2023: 74.5%).
  • Geen inkomste van eksterne projekte is tydens 2023/2024 ontvang nie.
  • R10.5 miljoen is op verbruikbare voorraad en konsultante spandeer met die doel om die skema te onderhou.
  • Gamtoos Water het geen langtermyn skuld nie.
Begroting 2024/2025

‘n Verhoging van 12% is aanbeveel.

  • Totale begroting: R43 873 690
  • Waterbelasting inkomste: R32 420 200
  • Waterbestuursheffing (DWS): R2 004 260
  • Verbruiksbestuursheffing (DWS): R2 973 000
  • Nelson Mandelabaai Munisipaliteit: R2 075 800

Alhoewel daar gewoeker word om nuwe besigheid te identifiseer om sodoende die waterbelasting van ons verbruikers te subsideer, sal die vlak van subsidering nie soortgelyk wees aan die meer as 22 jaar waartydens ons die Departement van Omgewingsake se werk geïmplementeer het nie.

Watertariewe vir 2024/2025

‘n Verhoging van 12% word aanbeveel vir watertariewe vir die 2024/2025 waterjaar.

Beskrywing

Vorige Tarief

Nuwe Tarief

Opvanggebiedheffing (DWS)

R245.60

R266.40

Heffing op hoofkanaal en Kougadam (DWS)

R373.60

R395.20

Gamtoos Waterbelasting

R3 791.80

R4 278.72

Totaal (Basies vir 80% of minder van volkwota)

R4 411.00

R4 940.32

Groottotaal (Volkwota)

R4 635.00

R5 228.32

Bedrae sluit nie BTW in nie.

Begrotings sal opgestel word in die 2024/2025 finansiële jaar vir die Baviaanskloof en Kabeljous opvanggebiede.

PERSONEEL

“Outstanding people have one thing in common: An absolute sense of mission.” – Zig Ziglar

Ons personeel is ‘n smeltkroes van kulture. Oor baie jare het ons verdraagsaamheid en begrip vir mekaar ontwikkel. Daar is ‘n respek en samehorigheid onder ons almal.

Ons is trots op ons werk en loop die ekstra myl. Elkeen word waardeer vir wat hulle bydra. Dit sluit soms onkonvensionele voorstelle en gedagtes in, maar as jy die grense skietgee, gee dit baie keer ‘n kreatiewe en alternatiewe oplossing.

Ons is dankbaar vir elkeen van hulle.

DIE PAD VORENTOE

Môre en oormôre

Gamtoos Water verstaan dat die spil waarom die Gamtoos vlakte se ekonomie draai die beskikbaarheid van water is. So is dit ook die geval in alle landbougebiede soos dié van ons susters, die opvanggebiede van die Baviaanskloof en Kabeljous. Dit is in baie gevalle die enigste bron van inkomste vir gemeenskappe.

Dit is ons missie om waterbronne in al drie hierdie opvanggebiede effektief en op ‘n gereguleerde basis te bestuur. Dit, in samewerking met ons landbouvgebruikers, maar ook enige ander entiteit en groepering wie ‘n belang by waterbestuur het.

In die Baviaanskloof is daar ‘n behoefte aan administratiewe bystand en ‘n skakel met die Departement van Water en Sanitasie. Die behoefte is soortgelyk in die Kabeljous, maar daar is ook ander kwessies wat mettertyd hanteer moet word in terme van die behoeftes van die Kabeljous sub-komitee en so ook die watergebruikers.

In die Gamtoos vlakte is die dinamika en inisiatiewe natuurlik legio. Behalwe vir die normale waterbestuur, is daar kwessies soos waterkwaliteit, aanvullende inkomstebronne, die onderhoud van die pad, en die bewaring van ons omgewing.

Mettertyd is die belangrikste risiko areas op die skema aangespreek en die skema het gestabiliseer. Aandag sal oor die volgende drie jaar gefokus word op die opgradering van die takkanale.

Waterbestuur is ‘n enorme verantwoordelikheid en ‘n uiters belangrike taak. Om water te voorsien aan die gebruikers wat hulle aan die einde van die skema bevind is ‘n uitdaging. Daar is belê in ‘n elektroniese stelsel om die waterbeskikbaarheid in die sisteem te monitor en daar word na alternatiewe meting gekyk vir areas wat abnormale hoë onttrekking registreer tydens hoë aanvraag.

Dit het Gamtoos Water ongeveer drie jaar geneem om die nuwe waterbestuurstelsel te ontwikkel. Dit is byna gereed om onafhanklik te funksioneer. Daar is gevra dat die sagteware ontwikkelaar in die tweede fase moet fokus op die beskikbaarheid van waterverbruik aan die watergebruikers. Daar gaan ook gepoog word om ‘n toepassing te skryf om meterlesings outomaties in die sisteem in te trek.

Gamtoos Water streef daarna om diensgeoriënteerd te wees teenoor ons watergebruikers, maar ook om toeganklik te wees vir ons plaaslike gemeenskappe en sodoende saam te help bou aan die Gamtoos, Baviaanskloof en Kabeljous.

Dit is ‘n voorreg om twee suster opvanggebiede as deel van ons watergebruikersvereniging te hê. Ons sien uit na nuwe uitdagings, en om die watergebruiksomgewing ‘n voorbeeld van effektiewe waterbestuur op voetsoolvlak te maak.

Asimi, siyaqhuba.
Ons staan nie stil, ons beweeg vooruit.

Passievol oor mense. Passievol oor water.